Tuesday, 26 August 2014

Was jy soet op aarde?

'n Klomp paddatjies vrek toe die plaasdammetjie waarin hulle gebly het opdroog en nou staan hulle so 'n tou voor die hekke van die padda hemel en wag om in te gaan.

By die hek moet hulle eers ondervra word, sodat daar vasgestel kan word of hulle darem kwalifiseer vir die padda hemel.

Die eerste outjie kom by die padda-engel en dié vra hom: “Paddatjie wat is jou naam?”

“My naam is Willie oom.”

“Was jy soet toe jy op aarde was?”

“Ja, oom.”

“Wat het jy alles gedoen?”

“Ag, maar in die môre opgestaan, uit die water gespring, op klippie gespring, af klippie gespring, en dan maar terug in die water gespring.”

“Is dit al wat jy gedoen het?”

“Ja, oom! Dis maar al wat ons gedoen het.”

Die volgende paddatjie kom by die engeltjie en dié vra hom ook: “En wat is jou naam?”

“My naam is Petrus oom.”

“En wat het jy gedoen toe jy op aarde was?”

“Ag, ook maar net opgestaan, uit die water gespring, op klippie gespring, af klippie gespring en dan weer terug in die water gespring.”

So gaan dit aan, een na die ander, almal dieselfde roetine elke dag. Uit die water, op klippie, af klippie, en weer terug in die water.

Hier by die tiende paddatjie kom daar so 'n skaam paddatjie by die hek en die engel vra haar: “Paddatjie, wat is jou naam?”

“My naam is Klippie oom!”

No comments:

Post a Comment