Thursday, 30 January 2014

Brug na Australië

Van der Merwe stap op die strand naby Knysna, en tussen die duine ontdek hy 'n olielamp. Natuurlik vryf hy die lamp, en natuurlik verskyn daar 'n gees.

"Wat is jou wens, Meester?" wil die gees weet.

Van der Merwe dink diep: "Die meeste van my familie woon nou in Australië. Die meeste van my vriende woon in Australië. Ek wil graag 'n brug tussen Suid-Afrika en Australië hê, sodat ek so af en toe vir 'n naweek kan oorry om te gaan braai."

Die gees in die lamp skud sy kop. "Dis 'n vreeslike wens. Weet jy hoe lank so 'n brug sal moet wees? Die hoeveelheid beton wat nodig sal wees om dit aan die bodem van die see te anker? Die tienduisende kilometer staalkabels om die ding regop te hou? Die miljoene lampies om dit in die nag te verlig? Wil jy nie die saak goed deurdink en iets anders kies nie?"

Van der Merwe dink weer. Daar is nie regtig iets anders wat hy wil hê nie, so hy gryp maar die eerste gedagte wat verbykom. "Ek wil vrouens kan verstaan. Ek wil kan weet hoekom hulle huil, wanneer hulle huil, hoekom hulle kwaad is, wanneer hulle kwaad is, en hoekom hulle stilstuipe kry."

Die gees oorweeg die saak vir 'n oomblik, en vra: "Twee of vier bane vir die brug?"

No comments:

Post a Comment